Ken jy Hom?

Daar is so baie detail wat ek al vergeet het. Hierdie pad is swaar gelaai met emosie. Soveel so dat dit wil blyk of die tipe emosie te veel is om in die banke van my geheue te stoor. Elke dan en wan verwys iemand na n gebeurtenis in hul lewens en dis asof my geheue soos die gety, klippies van  herinninge terugbring na my. Dit los my met n skielike; ‘O ja! Dit het ook al in my lewe gebeur.’ Dis nie nuut nie, ek glo elke gebeurtenis voeg kleur by die groot prentjie. Dis ons eie idees en redenasies wat ons met meer vrae los. Of liewer, dit los my dikwels met meer vrae.

Waarom skryf ek hierdie inskrywing in Afrikaans? Oor ek my taal mis. En omdat my ma my skryfstyl mis. My ma wat my die liefste het van al die suurstofdiewe op aarde. Ag ek grap net. Maar om n knippie waarheid by te voeg moet ek erken dat dit my ma se stem is wat my kalmte bring en rede laat insien wanneer ek net als en almal wil bedood. Of wanneer die lewe so vreeslik seer word dat net haar ‘Sterk wees my kind, feite bo emosies’ my aan die gang hou. My eie mams wat almal se ander mams word. Ek gee nie om om haar te deel nie. Ek kyk met trots na haar omdat ek eendag soos sy wil wees en oor sy soos haar ma is. Ek wil die legende van die sterk tog sagte Erasmus vrou aan die lewe hou. Ja ek is nou getroud en my van is nou Gopal, my nooiensvan is Ontong (sterk, onbeweegbare Ontong) maar die Erasmus bloedlyn is sterk. Kyk maar ons almal se babafotos. Ja jong, een gesig sal die oumense gesê het, en hulle het tog. Ek hoop word een van daardie oumense as my kinders se kinders my wil ooreed dat ek moet bykom met die tye.

FB_IMG_1449490898354[1]
My ma in jonger dae. 
IMG_8610.jpg
Mal ekke! Foto deur: Gerald Petersen

My ouma was die mooiste vrou, was ek as kind vertel en ek stem nounog saam. Nie net mooi van buite nie maar van binne. Ek  het glo haar neus. Niemand het ooit met lëe hande of honger huistoe gegaan nie. Oupa en Ouma was legendaries, enig in hul soort. Hul huis was altyd die veiligste plek vir my. Dis seker hoekom ek steeds van dit droom wanneer ek deur n moeilike tyd gaan. Ouma was altyd rustig. Ek kan nie aan een keer dink wanneer sy regtig kwaad was nie. Jy wou haar net nooit ontstel nie, want as ek en my neef Bevin weer die slakke met sout gegooi het was haar reaksie net teleurstelling. Alles en almal behoort aan God was haar les. Ek onthou haar aansteeklike lag. As ouma begin lag het was daar nie n einde nie. Almal het al vergeet van die grap dan begin sy skielik net weer lag. En nie n normale lag nie, sommige kere sien jy net die traantjies en haar rooi gesig. My eie mams lag soos ons ouma.

Met oupa het  ek verkleurmannetjies gesoek. Ons het lekker op die stoep gesit op die bank wat hy self op sy jongdag gemaak het. Ek onthou die reuk van die katjiepieringboom by die voordeur, daar het hulle altyd vir ons beloer. Daardie draaiende ogies wat als kon sien. Ek wens ek nou een van hulle wees. Net sit en kyk hoe oupa en ekke die lewe aanskou. Ek verjaar die laaste dag van die jaar, dus was ek my oupa se oujaar. Oupa het baie stories geken en vertel. Hy was lief vir raaisels. Sy mees bekende ene klink iets soos die, ‘Why did the bird sit on the gate for a tickey’.  Dit maak gewoonlik meer sin as jy dit sê en nie skryf nie. Oupa was so kunstig, hy het goed met sy hande gemaak. Oh en hoe kan ek vergeet. Seuns was volgens oupa ‘gorrelose goed’ so meisies was maar altyd sy gunsteling. Om nie te praat van sy sieninge van die kerk nie. As ek vir oupa onthou weet ek dit was glad nie die kerk self nie maar die mense wat hom so ontstel het. Die kerk – ‘n rowerspielonk’. As ek my suster Victoria so luister dan hoor mens vir oupa. Hy sou saam met haar stem oor so baie goed.

fb_img_1449490788402.jpg
Oupa se mandjie, gemaak van doppies.

My sussie Victoria is die mees unieke mens wat ek ken. Mens kan haar nie ontsyfer nie en sy pas nie in n boksie nie. Ons is so verskillend maar verstaan mekaar oor juis dit. Ek dink ek verstaan myself beter oor sy n mens dwing om haar nie net te hoor nie maar om regtig te luister. Oupa was al naby die einde toe Vicky haar verskyning maak. Sy en oupa het n band gehad wat absoluut niemand kon verstaan nie. Oupa wat later in n rolstoel was en onsamehande woorde gesê het, was 100 % bewus van die klein mensie wat sy stoppelbaard so soen. Toe oupa ons verlaat, en hy tot rus neergelê word wou my eiewyse, hardekwas sussie saam met oupa in die gat gaan. Almal het gehuil. Oupa is n legende van sy tyd en my sussie dra sy sterk wil binne haar. Iemand wie se naam oorwinning beteken, ken nie van verloor nie.

 

IMG_0294.jpg
My steunpillare :mams en sussie. Foto deur: Gerald Petersen

Soos ek hier by my niggie se eetkamertafel sit, wonder ek oor ouma en oupa. Sou hul trots wees op my? Vandag voel ek maar oes ouma, sou ek haar seker vertel. Ek is moeg van probeer maar ook nie eintlik hard genoeg nie. Dit voel asof ek in die water hardloop. Tevergeefs is almal al verby my en ekke sukkel nog ouma. Ek moet glimlag want ek hoor haar stem. Dis die stem van n ma en n ouma. Dis my ma se stem met ouma se wysheid. ‘Aanhou en uithou my kind. Die Here los nooit Sy kinders nie. Die woord van die Here sê: Ken Hom in al jou weë en Hy sal jou paaie gelyk maak.’

vertrou-op-die-here-.jpg.jpeg
Dankie ouma…